Suikermielies en kool

Suikermielies, kool, rankgewasse en ander groentes word vanaf Oktober tot Junie onder besproeiing verbou. Die meeste van die groente word volgens vooraf-ooreengekome kontrakte gelewer en die surplus word op varsproduktemarkte van die hand gesit.

Ook hier geld die boerdery se beginsels van kwaliteit en kwantiteit. As deel van die volgehoue strewe na steeds beter kwaliteit produkte word ‘n verkoelingsaanleg beplan om ‘n moontlike nuwe nismark vir suikermielies te ontsluit. Dit sal beteken dat die mielies binne vier ure na pluk behandel moet word om die hoë suikergehalte en langer raklewe vas te lê. Min boere in Suid-Afrika doen dit tans ondanks ‘n groot vraag na hierdie supersoet-suikermielies.