Beeste

Die beeste-afdeling van 500 diere word saam met die wildboerdery op n soet savannaveld bedryf. Dit bestaan uit ‘n suiwer Boran- en ‘n suiwer Charolais-kudde asook ‘n kommersiële kruisraskudde. Laasgenoemde het ‘n Boran/Charolais-moederlyn wat deur Charolais-bulle gedek word vir maksimum gewig tydens speen.

Die beste genetika in die wêreld word bekom deur kunsmatige inseminasie (KI) vir die eerste derde van die dekseisoen te doen. Daarna word die boerdery se eie bulle gebruik. Die kwaliteit van die beeste sorg deurgaans vir premiepryse wat ‘n mededingende voordeel vir die boerdery beteken.

Johannes Senwamadi is die beeste-afdeling se operasionele bestuurder. Hy is ten volle opgelei in KI, dragtigheidsondersoeke en algemene gesondheidsbestuur. Onder sy bekwame toesig spog die afdeling met ‘n kalfpersentasie van 88% en ‘n tussenkalfperiode van minder as 400 dae.